Dinsdag, 29 September 2015

NUTTY WHEAT MEEL VS BROWNBREAD MEEL

Volg asb die onderstaande skakels om by Snowflake uit te kom om die verskille te lees oor die veselryke meel soos Nutty Wheat en Brown Bread flour.

NUTTY WHEAT FLOUR

Die persentasie semels baie hoër as in Bruinbrood meel.

http://www.snowflake.co.za/products/snowflake-flour/nutty-high-bran-wheat-flour.aspx#.VgqOgvmqqko

BROWN BREAD FLOUR
Die persentasie semels is laer as in Nutty wheat meel.

http://www.snowflake.co.za/products/snowflake-flour/brown-bread-wheat-flour.aspx#.VgqO5vmqqko

PS: 
Daar is ongelooflike resepte van hulle beskikbaar, gratis en verniet en flop vry!

BRON: Snowflake SA.

Maandag, 28 September 2015

TUISGEMAAKTE ROOMYS SONDER 'N ROOMYSMAKER




1. Hierdie resep is gebasseer op die tradisionele eiervla basis vir die fynste roomys in tekstuur. Ryk en romerig.

2. As jy kreatief wil raak en vruggies wil inwerk in die resep, blansjeer eers alle vrugte in 'n suikerstropie en voeg dan by roomys, maak seker dit het goed gedreineer voordat jy dit gebruik. Ek is lui en gebruik sommer konfyt en ander goed wat ek in die loop van die jaar bottel vir die spesefieke geure wat ek wil maak, speel, dit kan niemand dood maak nie. Op hierdie resep sit ek so 100 ml in. Neute, sjokoldae, enige iets selfs koffie bone, caramel treat, gemelte barone, kan in kom.

3. Wanneer jy enige iets wat warm is vinnig wil afkoel gebruik ys wat met growwe sout besprinkel is, die growwe sout verlaag die vriespunt van die ys drasties. Die soutblokke binne in die roomys makers werk op hierdie beginsel. Dus ons doen dit soos ouma dit destyds gedoen het.

4. Die geheim van 'n goeie roomys kom daarby dat hoe fyner die yskristalle op gebreek word hoe gladder die roomys. Dus moet die klits proses nougeset gevolg word wanneer die roomys verkoel word.

5. Roomys makers het ‘n basis binne van 'n soutbrine wat verkoel word, die masjientjie draai met 'n armpie in die rondte om die mengsel wat teen die kante set af te skraap en die kristalle fyner op te breek, die proses neem ongeveer 5 minute dan het jy roomys, met die hand 3 - 5 ure maar tuisgemaak bly nog die beste, ongeag hoe lank dit neem my kinders is mal oor roomys maak.

6. Gaan loer ook na die konsep van Ice cream in a bag, die eind produk is nie so fyn nie maar die kinders leer speel-speel.

RESEP
4 Jumbo Eiers - geskei
100 g Strooisuiker
1 e Mielieblom (maizena)
300 ml Room
300 ml Volroom melk
5 ml Geursel van keuse
5 ml Kleursel van keuse

METODE
1. Skei eiers en moenie die witte gebruik nie, vries vir latere gebruik.

2. Voeg die suiker by die eiergele en klits tot dik, liggeel en romerig.

3. Voeg die mielieblom by die eiermengsel en klits weer goed.

4. Plaas die room en melk in 'n dubbelkoker en verhit tot onder kookpunt.

5. Voeg die eier mengsel by en klits goed deur. Hou aan roer totdat die mengsel verdik het.
Toets die mengsel op die agterkant van 'n metaal lepel deur die lepel in die kooksel te druk en draai die lepel om. Trek met jou vinger oor die middel, sodra daar 'n mooi walletjie vorm weerskante, is die vla gaar.

6. Maak nou 'n bak vol ys en sprinkel met growwe sout, plaas nou 'n metaal bak bo op die ys en skep die vla oor in die bak. Hou aan roer sodat die mengsel vinnig kan afkoel. Vervang ys en sout as dit vinnig smelt, (veral in die somer) die eiervla mengsel moet so koud word soos yswater self.

7. Sodra die vla afgekoel is. plaas die hele kaboedel in die vrieskas. Jy moet dit elke uur uithaal en dan met 'n elketriese klitser klits om die yskristalle fyn op te breek. Hou so aan en jy sal sien as dit soos roomys begin lyk, skep in houer en vries met deksel op totdat dit gebruik gaan word.

Maak jou eie ys soutbad om die mengsel vinniger af te koel.



Na elke uur moet die mengsel geklits word om kristalle fyner op te breek.

Hierdie mengsel is perfek in konsistensie en kan bevries word.

ONGEVEER: 750 g roomys.
BRON: Annelien Pienaar, 1998.

Saterdag, 26 September 2015

GLANS VERSIERSEL VIR ALLE SOETGOED!

Hierdie versiersel kan op basies enige soet gebak gebruik word. Van koekies tot koeke!

RESEP
250 ml Versiersuiker
30 ml Kook water (2 el)
2 ml Vanielje geursel of suurlemoensap
2 ml Kleursel van keuse

METODE

1. Sif die versiersuiker en voeg genoeg water by om die mengsel glad te maak.

2. Geur soos dit jou pas en voeg eerder gel kleursel by in plaas van die loperige soort wat die versiersel dalk nog dunner kan maak.

3. Hierdie versiersel kan maklik te loperig wees, gooi die water spaarsamig by.

HOEVEELHEID: 250 ml.

BRON: Annelien Pienaar. 2014.  www.bosenbergguestfarm.co.za

KARAMEL SOUS

My moeder se Karamel sous was legendaries...Maak sommer 'n glas flessie vol en hou vir daardie onweersdae wat jou gemoed 'n maalkolk is en jy 'n soete troos nodig het. Vir my is hierdie sousie heerlik as ek roomys maak en dan gooi ek sulke blotse oral oor die roomys soos ek die lae pak. Gebruik saam met warm gebakte wafels en room...ja, die sousie is nie vir die "feint haerted" nie!

RESEP
1½ k Sagte bruinsuiker
6 e Melk (met 6 e melk kan die sous baie dik wees, as jy dit meer loperig wil hê voeg net meer melk by, nie meer as 12 e nie).
6 e Botter, ongesout
½ t Sout
1 k Versiersuiker

METODE
1. Verhit die suiker, melk en botter oor lae hitte totdat die suiker opgelos het. Kook dan vir ‘n verdere 2 minute. Verwyder van hitte en skep oor in mengbak.

2. Voeg die versiersuiker by en klop totdat die mengsel goed afgekoel het na kamertemperatuur. Jy kan met ysbak die temperatuur vinniger afbring.

GEBRUIKE
1. Doop koekies en doughnuts in die sous.

2. Dekoratiewe sous oor koeke en terte.

3. Roomys en neute.

4. Tussen koek lae, maak dan die sous net met 6e melk.

HOEVEELHEID: Ongeveer 400 g.

BRON: Annelien Pienaar.

Maandag, 21 September 2015

GEMARINEERDE SAMPIOENE

Daar is niks so heerlik soos hierdie klein knopies sampioene op ‘n stokkie in ‘n dromerige romerige sousie gedompel. As jy ietsie romanties wil doen vir ‘n piekniekmandjie is hierdie net die begin van lekker dinge! Wat wonderlik is van hierdie resep jy kan dit maande voor die tyd maak en in die yskas in lugdigte houer stoor. Die rakleeftyd in die yskas is 3 maande maksimum. 

Hierdie sampioene word in olie gepreserveer en die olie kan na die tyd gebruik word in allerlei disse. 
Ek gebruik dit om my sout muffins mee te geur, spek en eiers mee te bak of selfs my vleis in te braai. Dus is hierdie resep twee vliëe met een klap!

Sampioene mag nie in water skoon gemaak word nie. 
Omdat dit soos ‘n spons is (swam) absorbeer dit ongelooflik baie water en jou eindproduk is ‘n pappery van grys water en dit word dan ook nie effektief gepreseveer nie.

Onthou, hoe groter die sampioene wat gebruik word hoe meer vog tydens die kook proses absorbeer word, hoe korter word die rakleeftyd van die produk. 
Ek stel voor as jy groter sampioene gebruik dat dit binne 2 weke gebruik word. Moenie skrik as die gebottelde produk se olie wolkerig word as dit eers staan en afkoel nie, dit is juis oor hierdie vog wat dit gebeur. Daar is niks fout nie, daar is net vog teenwoordig wat rakleeftyd korter maak.

RESEP
500 g klein Knopies sampioene - skoon gevee en stingels teen die boud afgesny
1 k Asyn - wit of wit wyn
50 ml Wit suiker
2 t Sout
½ t heel Koljander korrels - geskroei (coriander)
½ t Fennegriek (fenugreek)
½ t Knoffel vlokkies - gedroog
½ t Rissie vlokkies - rooi
2 Lourier blare (bay leaves)
Olyfolie
Sonneblom olie
Roosmaryn takkie - vars
2 x 375 ml Glas botteltjies

METODE

1. Kook die asyn, suiker, sout en kruie (behalwe vars roosmaryn) saam. Sodra die mengsel kook voeg die sampioene by en kook op vinnig vir 10 minute.

2. Was die botteltjies en hou dit in ‘n pot kokende water en haal dit net uit voordat dit gevul moet word.


3. Dreineer die vog en sprei die sampioene oop om net effens droog te word. 
Skep die sampioene in die warm botteltjies en vul met helfte olyf olie en helfte sonneblom olie. Skep van die oorblywende speserye terug en druk 2 roosmaryn takkies in die botteltjies. Laat vir paar dae staan voordat dit gebruik word sodat al die geure kan ontwikkel.

4. Laat die botteltjies onderste bo afkoel en stoor vir 3 maande in die yskas. 
Sodra die botteltjies oopgemaak is gebruik so gou moontlik. Die olie is baie geurig en kan weer gebruik word om voedsel in te braai.

BRON: Annelien Pienaar, 2015. www.bosenbergguestfarm.co.za, klasse

Saterdag, 19 September 2015

BALSAMIESE ASYN SLAAISOUS

As daar nou een ding is waaroor ek dooi dan is dit balsamiese asyn. Ek het onlangs van ‘n vriendin ‘n bottel Oak aged Balsamic vingar gekry uit die mooie Italië! Dus as julle weer balsamiese asyn koop, kyk dat dit hout verouderd is. Die smaak is ongelooflik!

RESEP
500 ml Balsamiese asyn
15 ml Bruinsuiker
5 ml Sout
15 ml Heuning
5 ml vars Suurlemoensap
5 ml Mayonnaise
1 Knoffeltoontjie - fyn gemaak
100 ml Olyfolie

METODE
1. Kook die balsamiese asyn, bruinsuiker en sout totdat die helfte weg gekook het, ons noem dit reduseer. Laat dit goed afkoel voordat dit met die res van die bestanddele gemeng word.

2. Voeg al die bestanddele by die balsamiese reduksie en klits met klitser sodat alles goed gemeng word.

3. Hou die sous verkoel.

Bedien saam met enige vars tuin slaai of as ‘n doopsous.

HOEVEELHEID: 250 - 300 ml.

BRON: Annelien Pienaar, 2015. www.bosenbergguestfarm.co.za




SITRUS BEETSLAAI MET ROCKET EN PISTASIENEUTE

Die lemoentyd is amper oor en net voordat dit groet wil ek vir oulaas ietsie met dit doen. Ek is versot op enige vorm van beet kombinasies, van soet tot sout! Wat hierdie die ideale vinnige slaai maak, al die bestanddele kan die aand voor die tyd gemaak word en net voor opdiening aanmekaar gesit word. Dit is my lui-huisvrou slaai!

RESEP
500 g Beet - gekook en geskil - heel
3 geel Bete indien jy dit kan vind - gekook - geskil - heel
1 Lemoen - geskil en in wieletjies gesny
1 Pomelo - geskil en in wieletjies gesny
½ k Pistasieneute (pistachio) enige ander neut sal ook werk, selfs grondbone - grof gestamp
1 pakkie Roket blare
1 pakkie vars Kruie van keuse vir garnering

METODE
1. Doen al die vooraf bereidings soos in die bestanddele lys uiteengesit.

2. Pak eers ‘n laag van die roket blare, gevolg deur ‘n laag van die sitrus vrugte en laaste die verskillende beet.

3. Sprinkel die neute oor asook die vars kruie vir garnering.

4. Bedien met aparte slaaisous.

HOEVEELHEID: 6 - 8 persone.

BRON: Annelien Pienaar. www.bosenbergguestfarm.co.za




HOE OM DIE BLOG VIA REKENAAR EN SELFOON TE GEBRUIK


WAAROOR GAAN DIE BLOG?
Die blog se konsep is basies dieselfde as Facebook met die verskil dat dit nie verdwyn soos die dae aangaan nie. Ongelukkig met die Faceboek files kan mens nie die resepte met die foto’s save nie. Op die blog word alles net soos met FB gefile, met die verskil dat die volledige resep met foto’s by is. Dus is dit amper soos ‘n resepte boek met afdelings en gekleurde foto’s van die resep. Wat die blog so lekker maak is die soek opsie. 

Daar is Deursoek hierdie blog julle help en jy tik net ‘n soek woord in en dan gooi hy vir jou ‘n paar opsies uit. Of jy kan in die linker kant gaan loer onder Etikette is daar nog ander opsies om te soek, daar is die afdelings waarin die resepte gefile is of jy kan per maand die resep gaan soek, dus is daar verskriklik baie maniere om die kat te slag!

Ek kry toenemend mense wat graag die blog via hul fone wil gebruik. 
Sodra jy by die blog land gaan jy die nuutste 4 resepte sien. Mense sukkel om by die soek opsie uit te kom.


1. Tik in www.boerekostwist.blogspot.com of volg die link wat op die FB blad is om jou daarheen te neem. Sodra jy daar aanland.

2. Scroll af met jou foon totdat jy heel onder op die blad kom. 
Klik op Bekyk webweergawe.

3Dit neem jou na die hoofblad en jy sal dan soos op jou rekenaar soektogte en goed kan doen.

BRON: Annelien Pienaar,2015.

LAVENTEL EN SUURLEMOEN SOUT

Wanneer jy jou laventel bosse snoei, moenie die takkies weg gooi nie. Dit kan verwerk word in kos soute, badsout en vele meer! Lamsvleis kom tot sy reg met hierdie sout.

RESEP
2 k Seesout vlokkies
24 Laventel takkies met blommetjies aan
5 t Tiemie - droog
1 e Swartpeper korrels
4 Suurlemoene - skil gedroog
1 k Pistasio of pekan neute of dennepitte of grondbone - fyn gekap

METODE
SUURLEMOEN
1. Skil ‘n suurlemoen dun af sonder dat daar enige van die wit wys op die skil. Ek laat my suurlemoen skil op lae handdoek papier op lae koerant papier in ‘n donker vertrek droog word. Maal dan fyn in voedsel verwerker.

2. Meng al die bestanddele saam en voeg vir elke koppie sout ‘n halwe teelepel rysmeel by.

BRON: Maritha Lotz, 2013.

LEMOEN EN VINKEL SOUT

Ek het hierdie ongelooflike wonderlike vriendin, genaamd Maritha Lotz. 
Ek sê altyd vir haar: “I love you Lotz!”. 
Sy is Ma van 4 en ouma van vele! 
Haar twee hande kan toor. 
Sy laat my aan die Spreuke vrou dink met al haar deugdes! 
Eendag kom Maritha by my aan met drie botteltjies sout wat sy self gemaak het. 
Hierdie spesefieke sout het my totaal en al oor rompel met sy komplekse geure. 
Ek gebruik hierdie sout saam met vark vleis van boud tot tjoppies, vis en hoender! 
Heerlik as sprinkel sout oor koue beetslaai, aartappel slaai en doopsouse vir groente borde.

RESEP
2 kop seesout vlokkies - grof
4 lemoene se skil gedroog - fyn gemaal
4 tl salie (sage)
8 el vinkel saad - gerooster (fennel seeds)

METODE
1. LEMOENSKIL 
Skil ‘n lemoen dun af sonder dat daar enige van die wit wys op die skil. 
Ek laat my lemoen skil op lae handdoek papier op lae koerant papier in ‘n donker vertrek droog word.

2. ROOSTER VAN SAAD
Plaas die vinkel saad in ‘n pan en verhit die pan oor medium hitte. 
Skud die pan gereeld om te voorkom dat die saad aanbrand. 
Onthou al die sade bevat vlugtige olies en dit is hoekom dit geskroei moet word om die olies wakker te maak. 
Sodra jy die sade ruik is dit klaar gerooster.

3. Meng al die bestanddele saam en plaas in lugdigte houer.

4.  Om te voorkom dat die sout klonte maak kan jy ‘n ½ tl rysmeel by elke koppie sout voeg. 
In plaas van ryskorrels kan jy by enige kettingwinkel, bakkers winkel en supermark hierdie meel op die rak kry. 
Ek maak al my soute so, veral vir die mense by die kus is dit ‘n moet!

BRON: Maritha Lotz, 2013.

Vrydag, 18 September 2015

Boere Brekkie / Farmers Breakfast


Hierdie ontbyt is vinnig en maklik en al die vooraf bereidings kan al die aand te vore gedoen word.

RESEP
2 x 400 g rolle Skilferkors deeg
8 Spekvleis repies van keuse - die aand voor die tyd bros gebraai
1 Eier - geklits om lagies deeg aan mekaar te “plak”
4 e Tamatiesous
1 Rooi soetrissie - in wiggies gesny en ontpit
1 Rooi ui - in wiggies gesny
2 e Olyfolie
4 Eiers - vir die binne kant
vars Pietersielie vir garnering
Sout en peper na smaak

METODE
1. Rol die skilferkors deeg lae uit en smeer een van die twee lae met geklitste eier en plaas die ander laag bo op. Plaas die deeg op ‘n verkilde skinkbord en laat rus in die yskas tot die volgende dag.

2. Voorverhit oond na 200 ˚ C.

3. Haal die deeg uit en sny die deeg in 4 presiese vierkante, probeer om soveel van die deeg te gebuik as moontlik. Wanneer mens sulke deeg sny, gebruik ‘n skerp mes met ‘n gladde lem en trek die mes in hale oor die deeg. Dit help die lagies deeg mooi vorm en van mekaar skei om ‘n powwerige voorkoms te kry tydens die bakproses. As jy sommer net met ‘n groot mes die deeg met ‘n afwaartse druk sny op eenslag dan kompakteer jy die lae en dit rys nie optimaal nie.

4. Sny ‘n kleiner vierkantjie in die middel van die deeg amper halfpad deur die deeg, ek skat so 3 cm randjie is genoeg. Smeer die deeg met die geklitste eier wat oorgebly het en bak in die oond vir 10 minute. Haal die dekseltjie wat gevorm het in die middel af en eet dit op! Smeer die middel met tamatiesous.

5. Gooi die uie en soetrissie in ‘n sakkie en voeg die olyfolie by en meng goed. Pak nou die lae van die ontbyt happie soos volg - 2 repies spek, 2 repies soetrissie, uie na smaak, vars pietersielie en geurmiddels. Breek die eier versigtig op die bondel wat jy gepak het.

6. Bak in oond wat afgestel is na 180 ˚ C vir 10 - 15 minute afhangende van die gaarheid van die eier wat deur die gas verlang word. Bedien dadelik!

HOEVEELHEID: 4 porsies.

BRON: Annelien Pienaar, Bos en Berg gasteplaas, 2015.


English Version
Recipe
2 x 400 g rolls Puff pastry
8 Bacon strips of choice - fried crispy the night before  
1 Egg - beaten to to "paste" layers of dough together
4  tbsp Tomato sauce
1 Red pepper - cut into wedges and cored
1 Red onion - cut into wedges
2 tbsp Olive oil
4 eggs - for the inside
fresh parsley for garnish
Salt and pepper to taste

Method:
1. Roll out the puff pastry and spread one of the two layers with beaten egg and place the other layer on top. Place the dough on a chilled platter and let it rest in the refrigerator until the next day.

2. Preheat oven to 200 ˚ C.

3. Remove the dough and cut the dough into 4 exact squares, try to use as much of the dough as possible.
When you cut dough like this, use a sharp knife with a smooth blade and make knife strokes over the dough. It helps the layers of dough to separate to get a puffy appearance during baking. If you just cut the dough with a big knife in a downward move you compress the dough and it will not rise optimal.

4. Cut a small square in the center of the dough almost halfway through the dough, I guess about a 3 cm border is enough. Spread the dough with the leftover beaten egg and bake in the oven for 10 minutes. Remove the lid that formed in the middle and eat it! Spread the middle with tomato sauce.

5. Put the onion and pepper in a small bag and add the olive oil and mix well. Pack the layers of the breakfast snack as follows - 2 strips of bacon, 2 strips of red pepper, onion to taste, fresh parsley and seasonings. Break the egg gently on the bundle you have packed.

6. Bake in oven at 180 ˚ C for 10 - 15 minutes depending on the doneness of the egg that is required by the guests.  Serve immediately!

QUANTITY: 4 servings.


SOURCE: Annelien Pienaar, Forest and Mountain Guest Farm, 2015 .

Dubbele Pizza Omelet / Pizza omelet


Ek sou in my wildste drome nie kon dink dat hierdie omelet die Twisters se koppe so sou laat draai nie!  Dit is die eerste keer dat ek vanaf ‘n ou foto wat ek iewers gesien en gefile het onder ontbyt,‘n nuwe resep moet skryf, was interessant gewees. Maar hier is hy nou, heerlike Noen ontbyt of te wel Brunch!

RESEP
OMELET
4 eiers - goed geklits
100 ml melk
1 el botter - gesmelt
knippie sout
peper na smaak
vars roket of koljander blare vir garnering

METODE
1. Vooraf verhit kleefvrye pan tot warm.

2. Meng al die bestanddele saam en klits baie goed sodat die eier deeglik gemeng is. Gooi deur sif om die growwe dele te skei.

3. Gooi ‘n dun lagie (soos pannekoek) mengsel in die pan en draai in die rondte. Die omelet sal vinnig gaar word en draai om sodat die ander kant deeglik kan bak.

4. Hou die omelette onder klam vadoek om nie uit te droog in die lou oond.

VULSEL
15 ml Olyfolie
250 g Repies spek - grof gekap
250 g Gerookte kaas worsies of wors van keuse
½ k Ui - fyn gekap
½ k Rooi soetrissie - fyn gekap
½ k Sampioene - fyn gesnipper
½ t Knoffel - vars
100 g Kaas - gerasper
6 Eiers - geklits
Sout en peper na smaak
15 ml Origanum

GARNERING
250 ml Maaskaas
Vars kruie blare

METODE
1. Braai die spek en worsies tot gaar en skep uit die pan.

2. Braai dan die ui in dieselfde pan, sodra glansend voeg die soetrissie en sampioene by en braai tot droog. Verwyder van hitte en geur na smaak en voeg die knoffel en vleis by.

3. Maak gewone roereier eenkant en pak dan die pizza omelet soos volg - eers ‘n laag omelet, dan vulsel en kaas op gestrooi. Eindig met omelet skyf wat in kwarte of agstes gesny is. Garneer soos verkies met maaskaas en vars kruie blare.

HOEVEELHEID: 4 omelette.

BRON: Annelien Pienaar.


English Version
OMELETTE
4 Eggs - well beaten
100 ml Milk
1 tbsp Butter - melted
Pinch of salt
Pepper to taste
Fresh rocket or cilantro leaves for garnish

METHOD
1. Preheat a non stick pan until hot.

2. Mix all the ingredients together and whisk well so that the egg is thoroughly mixed. Strain through a sievve.

3. Pour a thin layer (like pancake) mixture into the pan and rotate. The omelette will cook quickly, turn and bake on the other side as well.

4. Keep the omelette under a moist cloth in a low oven to prevent drying out.

FILLING
15 ml Olive Oil
250 g Strips bacon - coarsely chopped
250 g smoked cheese sausage or sausage of choice
½ cup Onion - finely chopped
½ cup Red pepper - finely chopped
½ cup Mushrooms - finely shredded
½ tsp Garlic - fresh
100 g Cheese - grated
6 Eggs - beaten
Salt and pepper to taste
15 ml Origanum

GARNISH
250 ml Cottage Cheese
Fresh herb leaves

METHOD
1. Fry the bacon and sausages until cooked and remove from the pan.

2. Fry the onion in the same pan, when glossy add the peppers and mushrooms and cook until dry. Remove from heat and season to taste and add the garlic and meat.

3. Make ordinary scrambled eggs aside and pack the pizza omelet as follows - a layer of omelette, then stuffing and cheese sprinkled on. End with omelet disc that is cut into quarters or eighths. Garnish as desired with cottage cheese and fresh herb leaves.

QUANTITY: 4 omelettes.


SOURCE: Annelien Pienaar. Cooking classes www.boerekostwist@gmail.com





Dinsdag, 15 September 2015

MURGPAMPOEN LASAGNE

Wat gemaak as jy nie lasagne velle in die huis het nie? Wel onlangs het die ongeluk my getref dat ek beide meel en pasta velle uit voorraad gehardloop het. Ek pluk die yskas se deur oop met die hoop dat daar ‘n antwoord sal uitspring! Die sous en vleis is reeds klaar, wat nou. Loop na die groente tuin met die hoop op ‘n antwoord en daar hang toe die lieflikste vet murgpampoen vir my en loer. Ek het hom goed geskrop en hy was breed soos ‘n lasagne vel. Ek sal as daar murgpampoen in voorraad is altyd die pampoen in plaas van die pasta velle gebruik.

RESEP
VLEIS VULSEL
1 kg Maer maalvleis
2 Seldery stingels - fyn gekap
4 Wortels - gerasper
1 Ui - fyn gekap
4 Salami velletjies - fyn gekap
1 Knoffeltoontjie
2 e Origanum
2 e Olyfolie
Sout en peper na smaak
Kaas vir sprinkel bo op indien verkies

METODE
1. Braai die ui en seldery totdat die ui glansend en deurskynend is. Voeg die res van die bestanddele by en kook totdat die maalvleis gaar en droog is.

MEDIUM WITSOUS
500 ml Melk
50 g Botter of bak margarien
50 g Koekmeel
knippie Neutmuskaat
Sout en peper na smaak

METODE
1. Smelt die botter oor lae hitte in kastrol. Voeg die koekmeel by en roer goed deur.

2. Voeg die melk by en met ‘n ballon klitser klits totdat die mengsel goed verdik het. Moenie die sous vir ‘n oomblik los nie. Dit kan klonte maak of een bol word. Roer manne roer!

3. Sodra die sous verdik het en 2 minute gekook het op medium hitte, verwyder van stoof en begin met die aanmekaar sit van die lasagne.

4. Sny die murgpampoen in 5mm dik repe en hou eenkant.

AANMEKAAR SIT VAN LASAGNE
1. Sprei eers ‘n laag witsous onder in die bak gevolg deur murgpampoen en laaste vleis. Herhaal nog 2 keer en eindig met witsous. Sprinkel kaas en ekstra origanum oor indien verkies.

2. Lekker eet!

HOEVEELHEID: 4 - 6 porsies.

BRON: Annelien Pienaar.




MURGPAMPOEN BROS VINGERS

Hierdie is die heerlikste om saam met burgers te bedien in plaas van aartappel skyfies. Hierdie vingers kan diepvet gebraai word of in die oond bebak word. Dit is geskik vir vegetariërs. My kinders geniet hierdie sommer so op die burger gepak. Ek hou van my vingers met my Ma se knoffelroom sousie. Gaan loer gerus by souse in die kantlyn.

RESEP
250 Murgpampoentjies
2 Eiers
1 t Hoender speserye
1 k Koekmeel
½ k Mielieblom (maizena)
½ t Bakpoeier
300 g Broodkrummels - gedroog

METODE
1. Sny die murgpampoenties in die lengte in kwarte.

2. Sif die koekmeel, maizena met die sout en bakpoeier saam.

3. Doop die vingers in die geklitste eier en dan in die meel. Laat eenkant en maak die res van die vingers klaar.

4. Doop die vingers weer in die eier en rol dan in die krummels. Laat al die vingers op ‘n bakplaat in die yskas vir 1 uur staan voordat jy dit gaar maak.

5. Jy kan die vingers diepvet braai of in die oond bak vir 35minute by 180 ˚ C.

HOEVEELHEID: 4 - 6 porsies.

BRON: Annelien Pienaar.

Maandag, 14 September 2015

MURGPAMPOENTJIE PASTEI

Hierdie resep is eendag uit nood gebore! 
Ek en my man was nog jonk getroud en het elke dinsdagaand bybelstudie by ons gehad toe ons nog in Faerie Glen gewoon het. 
Daardie middag kom beide van ons tuis, moeg na 'n moeilike dag by die kantoor. 
Hier kry ons 'n klop aan die deur, Ds is vroeg daar en wil met ons gesels oor een van die groeplede wat trauma beleef het en ons moet die situasie vir hom monitor. 

Ek vra my man om die tee skinkbord te vat in die kombuis en hy vra of ek iets vir die bybelstudie gemaak het, aag, kyk ek raak toe sommer so lam! 

Al wat in die yskas was, was eiers, melk, winkel skilferkors deeg, feta kaas, brood en murgpampoentjies. 
Op die yskas is my Ma se bobotie resep en ek kyk die vla gedeelte so met die een oog en besluit, vanaand is die aand dat ek gaan kreatief raak!

RESEP
2 pakke Puff pastry
6 eiers
500 ml melk
1 kop Feta - gekrummel - haal ekstra uit om bo op te sprinkel na die tyd.
250 g botterskorsies - in lengte in dun repe gesny
½ kop ui - fyn gekap
100 g vars broodkrummels
2 el origanum
sout en peper na smaak

METODE
1. Voorverhit oond na 230 ˚ C.
Rol die skilferkors deeg op meel bestrooide oppervlakte uit.
Deel die deeg in 2 en sny 'n raampie van die een.
Die raampie moet ongeveer 3cm breed wees reg rondom.

2. Smeer die soliede vierkant met eier en plak die raampie bo op vas.
Plaas terug in yskas op bakplaat om goed koud te word en die kors te laat set.

3. Meng melk, eiers en kaas saam.
Voeg die broodkrummels by en klits weer goed.
Voeg nou alle geurmiddels by.

4. Haal die deeg uit die vrieskas en bakblind vir 10 minute by 200 ˚ C.
Haal uit oond en trek die middelste velletjie af as dit blaserig lyk.

5. Gooi die melkmengsel in die holte en pak 'n laag van die murgpampoentjies bo op.
Sprinkel met sprietuie en bak vir 30 minute by 180 ˚ C.

BRON: Annelien Pienaar.

MURGPAMPOENTJIE CHIPPIES



Ons geniet hierdie chippies by ons braai en kuiertjies met ‘n heerlike knoffel doopsousie of as ‘n bykos saam met ander groente disse.

RESEP
12 groot Murgpampoentjies, R 5 grootte
50 g Parmasaan kaas
500 g Broodkrummels - vars
1 Eier
50 ml Melk
750 ml Kookolie

METODE
1. Sny die pampoentjies in papier dun skyfies. Klits die eier en melk saam en voeg ‘n knippie sout by.

2. Plaas in die eier en melk mengsel. Doop die skyfies in broodkrummels en laat 30 minute staan voordat dit diepvet gebraai word.

3. Diepvet braai die skywe baie vinnig en sodra dit uit die olie kom sprinkel met parmasaan kaas.

4. Bedien warm of koud met doopsousie.

HOEVEELHEID: 8 - 10 porsies.

BRON: Annelien Pienaar.

GEVULDE MURGPAMPOENTJIES

Wanneer ek so deur die groente tuin stap dan is dit vir my wonderlik om te sien as my groentetjies so wikkel en woel. Ek los soms my murgpampoentjies om nog so 4 weke langer aan die stingel te groei voordat ek dit pluk. Dan is dit amper so dik soos my voorarm en ek halveer dit om dan heerlike vulsels in te sit en so te bak. Soms bak ek my Bobotie in so ‘n groot pampoentjie.

RESEP
3 Murgpampoentjies - ekstra groot
4 Eiers - geklits
½ k Koekmeel
½ k Cheddar kaas - gerasper
50 g Bloukaas of Brie of Cammenbert of Bokmelk kaas of laat uit as jy nie van sterk smake hou nie
¼ k Ui - fyn gekap
3 e Origanum - gedroog
2 e Parmasaan kaas - grof gerasper
Sout en peper na smaak

METODE
1. Sny die murgpampoen in die middel deur en verwyder die binne kant. Hol diep genoeg uit sodat dit baie vulsel kan vat.

2. Braai die ui liggies tot gaar.

3. Meng al die bestanddele saam en wees versigtig om nie die sout en peper te oordoen nie.

4. Bak vir 35 - 45 minute by 180 ˚ C.

Bedien warm.

HOEVEELHEID: 6 - 8 persone.

BRON: Annelien Pienaar.




MURGPAMPOENTJIE PLAATKOEKIES


Ek weet nie of dit instink by kinders is om nie van groen kos te hou nie. My een seun het eendag gereken alles wat groen is, is vrot! Toe meng ek sy gunsteling groente, mielies in by die murgpampoen wat ek fyn gerasper het en siedaar, die mannetjie eet groen groete! As ek nie murgpampoen het nie vervang ek  met spinasie, brokkoli, groen boontjies en selfs eiervrug as die groente.

RESEP
½ t Tiemie
½ t Basil
1 k Mielie pitte
½ t fyn Knoffel
500 g Murgpampoen - gerasper
½ t Sout
2 e Olyfolie
4 Eiers - geklits
½ k Kaas
¾ k Koekmeel
½ t Bakpoeier

METODE:
1. Meng al die bestanddele saam en skep lepels vol op kleef vrye pan wat met olie uitgevee is. Bak aan beide kante tot goudbruin.

2. Eendag het ons in 'n  self sorg eenheid gaan bly en daar was die aakligste pan waarin alles vas klou. Daar was‘n sandwich press, toe bak en groente koekies in dit! Baie mooi uitgekom.

HOEVEELHEID: 6 - 8 porsies.

BRON: Annelien Pienaar.

Vrydag, 11 September 2015

MIELIE TERT

Paula Deen Corn Casserole...This is one of my favorite Casseroles!:

Op saterdae het my Ma altyd hierdie heerlike mielietert van haar gemaak. Dit is heerlik klam, sponsagtig sag en ruik heerlik. Hierdie is ook 'n wonderlike bykos wat selfs die wat nie hou van kosmaak, binne 5 minute aanmekaar kan slaan!

RESEP
2 blikkies Room mielies (groot)
1 k Cheddar kaas - gerasper
4 Eiers - geklits
3 e Botter - gesmelt
1 t Dill tippies
3 e Koekmeel
Sout en peper na smaak
1 klein pakkie Spekvleis - fyn gekap - opsioneel

METODE
1. Meng al die bestanddele saam en skep in langwerpige pyrex bak. Sprinkel met ekstra kaas en bak vir 35 minute by 180 ˚ C.

2. Bedien warm!

PORSIES: 6 - 8 persone.

BRON: Hantie Bezuidenhout.

KOSTE BEREKENING

Elke bestanddeel op die resep moet individueel uitgewerk word.
As jy slim is (ek weet nie hoe) gebruik Excell!

FORMULE
Hoeveelheid wat die resep aadui jy nodig het
---------------------------------------------------------------  X   Aankoop prys
Hoeveelheid wat jy gekoop het

Bv. Om pannekoek te bak het jy 1 koppie koekmeel nodig. 

Maar jy kan mos nie in koppies jou koekmeel loop koop nie! 
Dus moet jy die koppie koekmeel verwerk na gram of kilogram. 
Hoekom gram want die meel word ook nie in ml verkoop nie. 
(Hoeveelheid wat die resep aandui jy nodig het.)

Jy het by die winkel 'n 12,5 kg sak koekmeel gekoop en dit het jou R109.00 gekos. 

(Hoeveelheid waarin jy gekoop het)

140 g koekmeel soos resep aandui

-------------------------------------------------X   R109.00
12500 g koemeel gekoop

= R1.22 per koppie koekmeel


Dus werk elke bestanddeel so uit en tel alles bymekaar. 
Maal dan dit met 2 vir arbeid en sit wat jy ook al goed dink op as jou "mark-up.

Hoop dit help!


PS: Hierdie formule werk vir enige ding wat jy moet produseer, van hekel, houtwerk, vleis werk alles!


Woensdag, 09 September 2015

TUIS GEMAAKTE EN GEGEURDE BOTTER

Wat is nou nie lekkerder as om ‘n vriendin by wie jy gaan kuier met ietsie in die hand te bederf nie? Dink net jy neem ‘n tuisgebakte broodjie met konfyt en gegeurde botter in ‘n mooi pakkie toegedraai!

Kom ons maak eers ons eie botter van room.

Dan verwerk ons hierdie heerlike botter in iets wat gegeur word om in vulsels vir vleis stop te gebruik.

Of heerlike botter wieletjies met suurlemoen vir daardie vars vissie op die kole of sommer net vir ‘n vars gebakte broodjie.

TUISGEMAAKTE BOTTER
1 liter Room
5 ml Sout
Yskoue water met ekstra ys op die kant

METODE
1. Klits die room met ‘n elektriese klitser totdat die room begin skif. Die room word eers mooi wit en skuimerig en dan oorklits jy dit nog verder om dan die geel deeltjies te kry. Jy sal sien die karringmelk is waterig dun en die botter gedeeltes dryf daarin.

2. Hou aan klits totdat dit ‘n massa word. Werk so koud as moontlik.

3. Gooi die mengsel in ‘n kolander wat met kaasdoek of dun materiaal uitgevoer is om al die dele op te vang. Moenie die water gedeelte wat dreineer weg gooi nie, dit is regte egte karringmelk (die goed wat jy in die winkel koop as karringmelk is nie die ware Jakob nie. Die kultuur wat ingegooi word is Amasi!).

4. Bind die bene by mekaar en dompel die bondel in die yswater. Dompel so 5 keer en druk die sakke teen mekaar sodat die deeltjies aan mekaar kan klou. Maak die sakkie oop en brei die botter soos klei in die yswater. Ek stel voor gebruik plastiek handskoene want jou hande pyn. Jy moet so aan hou was totdat die water mooi helder is en al die karringmelk uit gewas is.

NB: As jy nie goed was nie gaan jou botter baie gou afgaan en vrot ruik as gevolg van die karringmelk wat vasgevang is.

5. Plaas die botter in die sakkie terug en hang op om goed te dreineer. Na 2 ure knie die sout in die botter in. As jy ongesoute botter wil hê slaan hierdie stap oor. As jy baie botter maak, dit vries goed.

DILL EN SUURLEMOEN BOTTER ROL
500 g Botter - kamer temperatuur
3 e Dill tippies - gedroog
1 e Suurlemoenskil - gerasper
2 e Suurlemoensap
knypie Growwe peper (twee vingers)

METODE
1. Plaas al die bestanddele in voedsel verwerker of gebruik elektriese klitser en meng totdat die sap goed ingewerk is.


      
2. Berei waspapier voor en sit op werksoppervlakte. Skep helfte van die botter in die papier en vou die papier oor. Nou het jy ‘n worsie, druk die botter styf teen die kant was en rol op sodat jy die dikte kry wat jy wil hê. 'n R5 grootte is mooi om op vars gebakte vis te sit. Draai die kante van die wors styf op en rol weer om mooi rond te kry. Plaas op koue bakplaat en sit terug in yskas om styf te word.

3. Sodra styf, maak oop en rol in ekstra dill of gedroogde suurlemoenskil of swartpeper om die hele rolletjie te bedek. Bind mooi toe in nuwe waspapier en versier.


RAAK KREATIEF MET JOU EIE GEUR KOMBINASIES
Gebruik die resep wat ek gegee het vir die suurlemoen botter en hou die vloeistof mates dieselfde. Dus as jy ‘n rooiwyn botter wil maak vervang dan net die suurlemoensap met rooiwyn. Dit sal nie ‘n waterige mengsel word nie.

Aangeheg is paar idees van soet en sout kombinasies vir die gegeurde botter.
Ek maak ‘n heerlike pekan en kaneel met rum essence vir my gesondheids muffins.
Hoop julle raak sommer lekker kreatief met julle geskenk idees!

HOEVEELHEID: 500 g.

BRON: Annelien Pienaar, 2015-09-09.